top of page
  • taaibosch1

TAAIBOSCH VARKBOERDERY KUIER SAAM MET LANDBOUWEEKLIKS

Die Landbouweekliks span en aanbieder Theodore Jantjies het by ons kom kuier.


Die episode is enige tyd beskikbaar op DSTV se Catch Up, Episode 5 van Landbouweekliks 2023.


Ons is baie trots op die Taaibosch span wat saam werk om die besigheid ‘n sukses te maak.


Baie dankie aan Liezel de Villiers, Thabi Modutoane, Theodore Jantjies en Gustav Germishuizen wat die opnames by ons kom doen het. Dit was baie lekker om julle weer te sien (en van julle vir die eerste keer te ontmoet). Dit was so insiggewend om die dag saam met julle te spandeer en julle uitkyk tot die lewe te ervaar.


Foto 1: Taaibosch bestuurspan kuier saam om die vuur

Foto 2: Varklies op die vuur (Gemaak deur Thea van The Purple Carrot)

Foto 3: CP Kriek en Theodore Jantjies langs gewasse


📷 fotos verskaf deur die landbouweekliks span


Ons is passievol oor varkboerdery en saam met ‘n innoverende span bou ons aan ‘n volhoubare boerdery. Kyk hoe Theodore Jantjies ons uitdaging aanpak in die episode - enige tyd beskikbaar op DSTV se Catch Up, episode 5 van Landbouweekliks 2023.


Foto 1: Theodore Jantjies vat ons uitdaging aan

Foto 2: Samuel Suping hou die pasgebore varkie vas terwyl hy geproseseer word

Foto 3: Suzan Mogatla, Theodore Jantjies en Bettie Esel


📷 fotos verskaf deur die landbouweekliks span


ONDERHOUDBROKKIES


Theodore Jantjies:

Is jou gevoel dat varkvleis sy mark potentiaal bereik het?


CP Kriek:

Nee, ek dink daar is nog soveel ruimte vir ons om te groei. Ek weet dit is 'n gesonde proteïen, dit is bekostigbaar, betroubaar en lekker...varkvleis is lekker. Ek dink wel waar daar ruimte is vir groei is op die verbruiker se ervaring rondom varkvleis. Hoe dit gaar gemaak word, hoe smaaklik dit kan wees en dit is juis wat ons met Genesus so bietjie inbring in ons varke, om daai ekstra sappigheid in te bring, die kleur, die sagheid van die vleis, sodat ons verbruiker as hy klaar maak met sy varktjoppie sê, "Hierdie was nou 'n lekker stukkie vleis. Ek gaan terugkom vir nog."


Theodore Jantjies:

Varkboerdery is baie intensief. Die mark pryse wat so laag is en natuurlik die mielie prys wat baie hoog is. Wat laat julle aanhou doen wat julle doen?


CP Kriek:

Theo, ek dink 'n boer in sy hart is optimisties. 'n Boer is iemand wat altyd weet dit gaan beter wees. Nie glo nie, hy weet dit. Hy staan in die oggend op en hy besluit, "Vandag gaan 'n goeie dag wees. Vandag gaan ons dit maak werk." Vir ons is die ding wat ons aan die gang hou, elke oggend as jy opstaan weet jy daar's meer as net jouself op die spel. Daar is mense wat afhang van hierdie boerdery. Daar is kliënte, verskaffers en 'n gemeenskap. Daar is 'n omgewing en daar is 'n hengse klomp diere wat afhang van ons om op te staan en die dag te vat, en ek sê altyd as ek in die oggend uitstap en ek ruik Afrika en ek ruik my koffie, "you just have to get up and go". Dis die dag - ons vat hom.


Theodore Jantjies:

CP, julle voer uit na Nigerië. Hoe het dit gebeur?


CP Kriek:

Ons het stelselmatig meer en meer betrokke geraak in Afrika en Nigerië was een van die lande wat ons identifiseer het waarop ons wil fokus. Nigerië is 'n groot ekonomie in Afrika, daar is ongelooflik baie mense. Daar is baie mense wat vark eet en dus is daar baie invoere wat gebeur, maar daar is ook baie produksie wat in Nigerië gebeur. Soos enige ander goeie verhouding het dit van beide kante af gekom en ons is genader vir teelmateriaal. Ons het besluit dis 'n land en 'n kliënt wat ons graag wil diens en ons het dit gemaak gebeur. Ek dink ons in Suid-Afrika ken Afrika. Ons weet wat is Afrika se uitdagings. Ons weet ook wat is die potensiaal en dis ons plek om daai potensiaal te ontgin. Ek dink nie dis nodig dat iemand van die buiteland af kom en Afrika se vrugte kom pluk nie. Dis ons plek om dit te doen.


Gerda Kriek oor die uitdagings in die Varkbedryf


Ek kan nie help as om vir die vraag (goedhartig) te lag nie (en ek en CP sal lekker saam lag). Laat ek so sê, ons het 'n klein vyeboom in ons tuin en as daar nou een ding is wat ek en CP nie sal doen nie, is dit om ‘n boom af te kap, maar vir die laaste 5 jaar dink ons al die “boompie” gaan dit nie maak nie. Hy het soms so 3 blaartjies oor en die koue Winter lê nog voor en ons dink die boom gaan nie meer daar wees nie, en dan kom die Somer en daar bot hy net weer. Ons het besluit daai boom se naam is nou Taaibosch.


Ons het regtig 'n paar ongelooflike moeilike jare agter die rug, daar was 'n paar “once-in-a-lifetime” gebeurtenisse wat plaasgevind het in die industrie, maar ongelukkig/gelukkig voel ek (en CP) oor ‘n uitdaging soos die Taaibosch vyeboom…dit maak ons eintlik bietjie opgewonde en net meer vasbeslote. Daar is net soveel wat ons deur die besigheid wil bereik dat ons net 'n sukses moet maak van die besigheid, daar is net te veel families afhangend van ons. So ja, as ons 'n uitdaging kry dan besluit ons hierdie is net weer tyd om te bot.

Foto1: CP en Gerda Kriek

Foto 2: Fotograaf Thabi Modutoane met sy kamera langs gewasse

Foto 3: Kaalplaas eenheidsbestuurder Charllot Rankoeshe

Foto 4: Liezel de Villiers met 'n pasgebôre varkie


📷 fotos verskaf deur die landbouweekliks span




Die episode is enige tyd beskikbaar op Catch Up, episode 5 van Landbouweekliks 2023.


Dit was ‘n voorreg om Landbouweekliks hier te hê. Tot volgende keer.




116 views0 comments
bottom of page